Orania Gesondheidsorg MSW het ontstaan uit die gemeenskap se behoefte aan betroubare, volhoubare en selfstandige gesondheidsorg.

is ’n maatskappy sonder winsbejag

Orania Gesondheidsorg MSW is ’n maatskappy sonder winsbejag wat toegewy is aan die verbetering van gesondheidsorg vir alle Oraniërs in lyn met ons doelwit tot selfbeskikking en gemeenskapsverantwoordelikheid.

is ’n instelling met ’n visie

Orania Gesondheidsorg MSW wil ’n volhoubare volkgesondheidstelsel vir Orania bou. Ons verskaf nie net mediese dienste nie, maar bevorder ook gesondheid in die breë – liggaamlik en emosioneel, genesend en voorkomend.

is betrokke by die stig van ‘n mediese sentrum

Die eerste groot projek van die MSW is die oprigting van Orania Mediese Sentrum wat dit ten doel stel om gapings te vul in die gesondheidsektor in Orania deur dokters, susters, tandheelkunde, laboratorium, X-strale en noodgevalle beskikbaar stel waar nodig.

is verbind tot gesondheidsdienslewering

Gesondheidsdienslewering in die openbare en privaatsektor is belangrik sodat doeltreffende en professionele dienste aan die hele gemeenskap gelewer kan word.

wil gesondheid van Oraniërs verbeter

Die verbetering van gesondheidsorg in die breë deur siektevoorkoming, die bevordering van gesonde lewenstyle en vroeë opsporing van gevreesde siektes word nagejaag deur die toegang tot gesondheidsorg te verbeter.

verteenwoordig die inwoners van Orania

Lede van die direksie word aangewys deur die vier grondentiteite van Orania, Orania Beweging en Orania Helpmekaar, sodoende behoort Orania Gesondheidsorg MSW aan die inwoners van Orania.

Die Direksie

Jannie Roux

Jannie is een van die oprigters van Orania Gesonheidsorg MSW en verkies tot voorsitter. Hy is ʼn sakeman in Orania en het Eleksa Orania Agentskap, bedryf Orania pendeldiens en verhuur elektriese voertuie in Orania. Hy is woonagtig in Orania sedert 2013 maar het reeds in 1994 eiendom aangeskaf. In 2010 het hy Orania Betonwerke begin en verskeie huise laat bou met die stapelblokke wat deur die betonwerke vervaardig is. Jannie is ook die voorsitter van TLU SA se Orania Boere-Unie en stigterslid van die LWO Werkgewersorganisasie wat werkgewers bystaan met arbeidsaangeleenthede. Jannie dien ook op die direksies van Karoosig Aftree-Oord en Orania Helpmekaar, wat hom aangewys het om hulle by Orania Gesondheidsorg te verteenwoordig .

Willie du Plessis

Willie is die ondervoorsitter en sy portefeulje is finansies, want hy is ook ’n sakeman en rekenmeester. Hy woon al vir 10 jaar in Orania. Willie is ‘n gekoöpteerde lid van die direksie in die plek van die verteenwoordiger van Orania Beweging wat nie op hierdie stadium iemand afgevaardig het nie.

Dokter Lardus Erasmus

Lardus is ’n algemene praktisyn wat vanaf 2013 ‘n huis in Orania het. Hy het baie jare in Ierland en Kanada gewerk en lewer ’n waardevolle bydrae tot vars insigte vir primêre gesondheidsorg vir Orania. Hy is ‘n oprigterslid van Orania Gesondheidsorg MSW en is ook verantwoordelik vir die mediese dienste in die Orania Mediese Sentrum.

Karin Bain

Karin is die sekretaresse van Orania Gesondheidsorg MSW en ‘n geregistreerde verpleegkundige wat betrokke is by die opleiding van Tuisversorgers by Bo-Karoo Opleiding. Sy woon vanaf 2020 in Orania en is ook een van die oprigterslede van Orania Gesondheidsorg MSW.

Arno Lambrechts

Arno woon vanaf 2020 in Orania. Hy is die departementshoof: Gemeenskapsdienste by die Orania Dorpsraad en is ook die verteenwoordiger van Orania Aandeleblok op die direksie van Orania Gesondheidsorg. Arno is verantwoordelik vir die skakeling met die kliniek en die Departement Gesondheid in De Aar.

Carien Strauss

Carien is ’n geregistreerde verpleegkundige met die portefeulje vir die voorraad van die Mediese Sentrum. Sy was voorheen werksaam as ’n verpleegkundige in Orania en lewer ’n bydrae rakende die behoeftes van die gemeenskap. Sy verteenwoordig die Direksie van Vluytjeskraal 272 (Edms.) Bpk. Carien woon al vanaf 2021 in Orania en tans help sy haar man met administrasie in sy besigheid BPP Konstruksie.

Maria Pereira

Maria verteenwoordig Kambrolandskap Koöperatief Bpk. op die MSW se direksie. Sy is betrokke by die Orania Weerbaarheidsvereniging se Mediese Noodspan en is ook die bevelvoerder vir die span . Sy woon sedert 2020 in Orania en is nou betrokke by verskeie gemeenskapsinstellings.

Hester van Zyl

Hester is ’n oud-inwoner van Orania en sy is die verteenwoordiger van Vluytjeskraal Noord Boerdery en Ontwikkeling (Edms.) Bpk. Sy is betrokke by verskeie Orania Instellings.

Connie Marx

Connie is nie op die direksie van Orania Gesondheidsorg nie, maar is benoem as die ouditeur van die MSW en lewer ’n waardevolle bydrae rakende organisasie, regulatoriese vereistes en die finansiële bestuur. Connie het meer as 18 jaar ondervinding in dokterspraktyke.